Betogings gaan voort by Tuks

Article as seen in Praag.co.za  – for more information click on link.

praag-embleemnuut_80


Effers dreig met groot betoging môre by Tuks

DSC01384

Volgens berigte gaan die EFF môre ‘n groot betoging voor die Universiteit van Pretoria hou. Die party het verklaar dat hy hom verset teen ‘n “’n minderheid wat kulturele, maatskaplike en alle ander fasette van universiteitslewe daar steeds oorheers”.

“Ons gaan ons lede oor Gauteng heen daarvoor mobiliseer,” sê die waarnemende provinsiale leidster van die party, Mandisa Mashego.

Dit mag tot konfrontasie lei, aangesien ‘n interdik wat die universiteit voorheen teen betogings in en rondom die kampus verkry het, steeds geldig is. By navraag van PRAAG, het Anna-Retha Bouwer, die universiteit se woordvoerder, gesê:

“Die EFF het by die Tshwane-metroraad aansoek gedoen om more om 10:00 met die optog voort te gaan, maar dit is nie toegestaan nie. Indien dit dus voortgaan, is dit onbeskerm. Die Universiteit het streng sekuriteitsmaatreëls in plek, asook goeie samewerking met die SAPD.”

Intussen het daar ook onenigheid onder die personeel van die Universiteit van Pretoria ontstaan nadat vier Effer-studente, wat voorheen geskors is omdat hulle geweld gebruik het, weer deur die rektor, prof. Cheryl de la Rey, tot studie toegelaat is. Lede van Solidariteit en die UP-werknemersorganisasie (UPWO) het dié besluit om die studente se skorsing op te hef, gekritiseer, maar is op hul beurt deur ‘n ander groep van 50 akademici veroordeel. In ‘n petisie het dié groep van 50 verklaar:

“Ons, die ondergetekende lede van die akademiese personeel van die Universiteit van Pretoria, ondersteun ons universiteit se besluit om daardie studente wat geskors is vir hul betrokkenheid by onlangse studentebetogings toe te laat om na die kampus terug te keer en om hul studies voort te sit, hangende die uitslag van hul tugverhore.”

Volgens die EFF, moet die Universiteit van Pretoria “gedekoloniseer” word. Mandisa Mashego sê:

“Ongelukkig dink swart Suid-Afrikaners dat dekolonisasie plaasgevind het as jy kan stem. Dit is nie (so nie). Dit is ’n diepgaande proses. Dit gaan oor ekonomiese eienaarskap, eiendomsreg en patrone van rykdom.

“’n Proses van dekolonisasie moet by die UP begin word, want ’n minderheid oorheers steeds kultureel, maatskaplik en alle ander fasette daar.”

Sy het ook gesê dat die party se studente “met burokratiese taktiek geboelie word” deur die UP, wat hom agter die ANC en Afriforum geskaar het”.