Paul Kruger-standbeeld met petrolbom gegooi; EFF-lede na Uniegebou

Article as seen in Maroela Media – For more information click on link.

2 November 2016
  Maroela-redaksie/ANA

download


Paul Kruger-standbeeld met petrolbom gegooi; EFF-lede na Uniegebou

paul-kruger-standbeeld Julius Malema, leier van die EFF, het Woensdag saam met duisende ondersteuners na die Uniegebou beweeg om pres. Jacob Zuma te “dwing” om te bedank.

Die polisie het minute nadat die betogers by die Uniegebou aangekom het, met rubberkoeëls op hulle losgebrand.

Die betogers het na die Uniegebou beweeg nadat Malema hulle op Kerkplein toegespreek het. “Alles waarvoor die EFF geveg het, is deur die hof toegestaan,” het Malema gesê met verwysing na die hof se bevel dat Thuli Madonsela se staatskaping-verslag vandag bekend gemaak moet word.

Malema het gesê die EFF gaan voort met die nalatenskap van anti-apartheidsfigure Chris Hani en oudpres. Nelson Mandela. Hy het ook weereens ʼn beroep op die party se ondersteuners gedoen om oop grond te beset.

“Moenie bang wees nie, ons sal nie stop voor ons grond kry nie. Ons veg want Zuma ondermyn Afrika-leierskap en projekteer swart mense as onbekwaam om die land te regeer.”

ʼn Petrolbom is intussen na Paul Kruger se standbeeld gegooi. Dit is nie duidelik of dit voor, ná of tydens Malema se toespraak gebeur het nie. Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, kon dit nie dadelik bevestig nie en het gesê die metropolisie reageer tans op verskeie sporadiese tonele waar betogers amok maak.

“Ons sal binnekort ʼn verklaring uitreik van al die probleempunte, sodra meer inligting van al die rolspelers ontvang is,” het Mahamba verduidelik.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, kon ook nie dadelik die voorval bevestig nie. “Die polisie het nog nie die brandweer na Kerkplein ontbied nie. Maar as dit ʼn petrolbom was, sou dit ʼn groot vlam veroorsaak het en vinnig weer uitgebrand het.”

Die omvang van die skade aan die standbeeld is nie onmiddellik bekend nie.


Maroela Media – Facebook link

Maroela Media – Nuus Blad