Article as seen in The Post news paper – for more information click on link.

18 November 2016   

Keina Swart

download


Ouerpaar loop pad saam met klein Stefani

o_1b1p7b6t41jmi1da79nm26ufl01a

Theunis en Chantelle van Schalkwyk met klein Stefani.


Terwyl hul vriende spog met peuters wat lustig kruip, loop, praat en speel, veg Theunis en Chantelle van Schalkwyk, ’n jong ouerpaar van Bela-Bela, die afgelope bykans drie jaar ’n moedige stryd om net hul kleine Stefani (2) se lewenskwaliteit te verbeter.  

Op twee en ’n half jaar kan Stefani nog nie sonder hulp regop sit nie. Sy kan ook nie praat nie en kry bykans een keer per week erge aanvalle waartydens sy bewusteloos raak.

Theunis en Chantelle, albei oudleerders van Hoërskool Warmbad, was soos enige gelukkig getroude paartjie baie opgewonde oor die koms van hul eersteling.

Chantelle, ’n voormalige wêreldkampioen in biathle (swem en hardloop), se swangerskap het normaal verloop en die baba is baie “vinnig” gebore.

Stefani het met haar geboorte op 4 April 2014 in die Unitas-hospitaal in Pretoria vir albei haar Apgar-toetse (toetse wat direk ná die baba se geboorte gedoen word om ooglopende abnormaliteite uit te skakel) punte van nege uit tien behaal.

Chantelle het egter reg van die begin af gesukkel met die voedings en Stefani het konstant diarree gehad. “Ek was kort-kort oor iets bekommerd, maar dan het ons dokter toe gegaan of toetse laat doen, en ons is elke keer gerusgestel dat Stefani net stadig ontwikkel.” Sy het onder meer geen kopkontrole gehad nie, was baie bleek en haar magie was heeltyd omgekrap.

“Op drie maande was ek regtig baie bekommerd, maar is weer ná ’n klomp toetse gerusgestel,” het Chantelle gesê.

“Op ses maande het ek ’n vriendin gesien wie se baba omtrent so oud soos Stefani is, en besef my kind is regtig baie ver agter,” vertel sy. ’n Nimmereindigende tydperk van besoeke aan dokters, spesialiste, oogkundiges en fisioterapeute het gevolg. Stefani is in die Kloof-hospitaal in Pretoria opgeneem weens “’n suurstoftekort en longinfeksie” maar 20 dae later is sy ontslaan met meer vrae as antwoorde.

Op agt maande is hulle wéér dokter toe. Die eerste dokter het gemeen dat sy moontlik ’n maagvirus het, maar ná ’n tweede mening is Stefani inderhaas in die hoësorgeenheid van die Montanta-hospitaal in Pretoria opgeneem met ’n magie wat behoorlik soos ’n rugbybal geswel was. Sy sou uiteindelik 56 dae in die hospitaal bly en vier bloedoortappings en talle ander behandelings ontvang.

Sy is daarna met Congenital Disorder of Glycosylation (GDG) Type IC gediagnoseer; ’n ernstige genetiese toestand wat veroorsaak dat die pasiënt nie kos reg kan verteer nie en alle organe beïnvloed word. Simptome sluit in vertraagde ontwikkeling op alle gebiede, aanvalle, oogafwykings en gastronomiese simptome soos braking en diarree. Haar verslae ouers is met haar huis toe. Daar is nie ’n kuur vir die siekte nie en ook geen behandeling nie.

Stefani se versorging is vir haar ouers ’n reuse-uitdaging, tog sê Chantelle haar dogtertjie is “’n regte sonstraaltjie en verskaf ons baie vreugde. Sy het my al so baie geleer van vasbyt, aanhou, hoop, geduld en deursettingsvermoë”.

Haar ouers hou aan glo en bid dat daar eendag ’n doeltreffende behandeling teen die siekte sal wees. Intussen doen hulle daagliks terapie, oefeninge en stimulasie en volgens Chantelle sien hulle regtig ’n verbetering.

Die egpaar beoog twee groot projekte waarmee hulle geld wil insamel sodat hulle in Februarie aanstaande jaar ’n kursus in Sandton vir versorgers van kinders met spesiale behoeftes kan bywoon.

Dié kursus vind oor drie dae plaas en kos R120 000.

  • Hou Die Pos dop vir meer inligting oor dié twee projekte. Die eerste is ’n kuieraand met peuselhappies saam met die sanger Bok van Blerk op Saterdag, 17 Desember, by Thaba Manzi buite Bela-Bela, en die tweede is ’n groot gholfdag by Zebula vroeg aanstaande jaar. Gaan loer ook op die Facebook-blad by Stefani van Schalkwyk — Reach Up Reach Out.Vir skenkings of navrae oor die Bok van Blerk-aand, bel vir Chantelle van Schalkwyk by tel. 082 370 4627.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *