Vrou beseer toe sy in gat in sypaadjie beland


Aangebied soos geskryf deur Ronel van Jaarsveld, joernalis van Die Pos koerant:


Vrou beseer toe sy in gat in sypaadjie beland

Dolla Searle het haar been beseer nadat sy in dié gat op ’n sypaadjie in Modimolle getrap het.

Dolla Searle het saam met nog ’n vrou op die sypaadjie in die hoofstraat gestap toe sy met een voet in ’n gat naby Capitec Bank getrap het. Soortgelyke gate het staaldeksels op, maar dié een was nie bedek nie, het sy aan Die Pos gesê.

“Ek het geval en ’n man wat daar naby gestaan het, het my opgehelp. My been is erg opgeswel en ek moet sedertdien daagliks pynpille drink,” het Searle gesê.

Volgens haar het sy die voorval by die munisipaliteit aangemeld, maar ’n vrou, wie se naam sy nie ken nie, het glo vir haar gesê dat “ek moet kyk waar ek loop”.

“Die medikasie kos my baie geld. Die munisipaliteit steur hulle nie aan my klagte nie en daar is nog steeds gate in die dorp waarin ander mense kan trap en seerkry,” het sy gesê.

Iemand het intussen die betrokke gat vol klippe gestop om verdere beserings te voorkom. Op dié deel van die besige sypaadjie is daar slegs ’n smal deel waar voetgangers kan loop, omdat winkel- en stalletjie-eienaars hul ware op die sypaadjies uitstal.

“’n Vrou wat selfoontoebehore by ’n stalletjie verkoop naby die plek waar ek geval het, het vir my gesê mense kry gereeld daar seer,” het Searle gesê.

Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het by navraag sy meegevoel met Searle uitgespreek. “Ons is jammer dat sy seergekry het, maar die munisipaliteit kan nie verantwoordelik gehou word vir beserings op sypaadjies nie,” het hy gesê. “Een van ons uitdagings is dat die staaldeksels van gate afgesteel word en aan skrootwerwe verkoop word. Dit hou gevaar vir ons gemeenskap in. Ons moedig inwoners aan om voorvalle waar deksels verwyder is, by die polisie aan te meld. Ons loof die polisie vir hul onlangse optrede teen vermeende diewe,” het hy gesê.

Shika het gesê klagtes kan aangemeld word by die kliëntedienseenheid langs die kassiere by die munisipale kantoor. Elke klagte word deur die kliëntediensbeampte “met die hand geregistreer en opgevolg. Ons versoek die inwoner om ons te besoek en aan te dui by wie sy die klagte gelê het. Al die beamptes is bewus daarvan dat hulle professioneel moet optree,” het hy gesê.

“Ons sypaadjies is meestal in ’n goeie toestand, behalwe waar kontrakwerkers besig is om kabels te lê. Die departement van openbare werke is hiervoor verantwoordelik. Die regulasie van stalletjie-eienaars in die munisipale gebied is steeds ’n uitdaging, maar ons is besig om aandag aan die probleem te gee. Ons is besig om munisipale verordeninge te hersien en ontwikkel. Dit sal ook winkeleienaars wat hul goedere op die sypaadjie uitstal, aanspreek,” het Shika gesê.

  • Die Pos het verlede week berig dat Hendrik Nicolas Botha (71) op Vrydag 26 April in hegtenis geneem is nadat hy glo in besit van gesteelde skrootyster was. Volgens die polisie is deksels van mangate glo op sy eiendom in Mookgophong gevind.

Link na volle berig: http://diepos.co.za/109530/vrou-beseer-toe-sy-gat-sypaadjie-beland/