Rioolprobleem lei nou tot klagtes teen amptenare


Aangebied soos geskryf deur Ronel van Jaarsveld, joernalis van Die Pos koerant:


Klagtes oor ’n drein wat maande reeds oorloop het die afgelope week groot onmin in Modimolle veroorsaak.

Die Pos het vroeër vanjaar berig oor rioolprobleme in Modimolle wat jare reeds voortsleep sonder dat dit opgelos word.

Die riool beland in die Klein Nylrivier tot kommer van omgewingsbewustes.

Die DA, wat aan die stuur van die munisipaliteit is danksy samewerking met die VF+ en EFF, het in ’n mediaverklaring gesê dat hulle op Maandag 11 Maart, klagtes teen verskeie munisipale beamptes gaan indien omdat die rioolprobleem ten spyte van verskeie klagtes nie opgelos word nie.

Volgens Jacques Smalle, die party se provinsiale leier, sou klagtes teen die munisipale administreerder, Mapule Mokoko en die tegniese dienste bestuurder, Promose Maphuta, by die Groen Skerpioene, die ondersoekafdeling van die departement van omgewingsake, ingedien word vir die oortreding van die wet op omgewingsbestuur en artikel 24 van die grondwet wat uitstippel dat mense die reg het op ’n gesonde en skoon omgewing.

’n Klag sou volgens hom ook gelê word by die openbare dienste kommissie.

’n Sakeman van Modimolle het vandeesweek groot opslae gemaak toe ’n Facebook-plasing waar hy baie ontsteld aan sy drie werknemers sê dat hulle nie kan werk nie as gevolg van die riool by sy restaurant, meer as 7 000 kere gedeel is. Dit is dié rioolprobleem wat tot die klagtes teen die amptenare gelei het. (Sien berig elders in koerant.)

“Sedert Dinsdag 6 November verlede jaar het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, nie minder nie as 18 versoeke aan die administreerder, Mapule Mokoko gerig om dringend aandag aan die herstel van dié spesifieke drein te gee.

Dit veroorsaak ’n gesondheidsrisiko en stink verskriklik,” het die verklaring gelui.

“Die riool loop ook in die Klein Nylrivier in, wat verdere risiko vir die lewens van mens en dier inhou.”

Smalle het verder gesê sedert die munisipaliteit in Mei verlede jaar onder administrasie geplaas is, het dienslewering, alle vlakke van bestuur en deursigtigheid, agteruitgegaan. Hy het die munisipale amptenare daarvan beskuldig dat hulle weier om hul samewerking aan die burgemeester te gee omdat die verkiesing om die draai is.

Teen druktyd kon die klagtes nog nie met die Groen Skerpioene bevestig word nie.


Link na volle berig: http://diepos.co.za/107899/rioolprobleem-lei-nou-tot-klagtes-teen-amptenare/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *