Man in hof nadat hy glo wegry van ongelukstoneel


Aangebied soos geskryf deur Ronel van Jaarsveld, joernalis van Die Pos koerant:


’n Jong kind het glo seergekry nadat ’n ander voertuig agterin dié Nissan 1400-bakkie vasgery het. Die bestuurder van die ander voertuig is in hegtenis geneem.

Noodroepe dat iemand dringend ’n ambulans moet ontbied het op Saterdag 9 Maart net ná 21:00 op noodgroepe weerklink nadat ’n silwerkleurige Toyota Rav 4-voertuig na bewering in Bergstraat in Modimolle agterin ’n Nissan 1400-bakkie vasgery het.

Twee kinders was glo agterop die bakkie en die meisie, vermoedelik vier of vyf jaar oud, is van die voertuig geslinger. Die bestuurder van die ander voertuig het volgens ooggetuies weggery toe inwoners uit hul huise kom.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê Lennox Thipe (43) is by ’n restaurant waar hy werk, in hegtenis geneem nadat die polisie ondersoek ingestel en die gemeenskap hulp verleen het om hom op te spoor.

Inligting oor die voertuig wat in die ongeluk betrokke was en moontlike skade wat dit opgedoen het, is wyd op veiligheidsgroepe versprei. Thipe se voertuig is glo ná die ongeluk by ’n paneelklopper ingegee om herstelwerk te doen.

Thipe het op Dinsdag 12 Maart in die hof in Modimolle verskyn op aanklag van roekelose en nalatige bestuur en op ’n aanklag van versuim om by ’n ongelukstoneel stil te hou en die ongeluk aan te meld.

Geen verdere inligting is bekend oor die toestand van die kind nie.


Link na volle berig: http://diepos.co.za/107936/man-hof-nadat-hy-glo-wegry-van-ongeluk/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *