Is dit die einde van die pad vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se raad?


Aangebied soos geskryf deur Die Pos-span, vanuit die Pos koerant:


Is dit die einde van die pad vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se raad?

Die munisipaliteit het op Maandag 19 November ’n brief van Jerry Ndou, LUR van die de­par­te­ment van sa­me­wer­ken­de re­ge­ring, tra­di­sio­ne­le sa­ke en mens­li­ke ne­der­set­tings (CoGHSTA) ontvang waarin hy sy voorneme om die munisipaliteit onder artikel 139(c) van die grondwet te plaas, deel.

Art. 139(c) beteken dat die raad ontbind word en raadslede uit hul poste onthef word. Die raad sal dan vir ’n tydperk deur CoGHSTA op provinsiale vlak bestuur word voordat ’n tussenverkiesing gehou word om ’n nuwe raad saam te stel.

Die ANC én die EFF het verlede week mosies van wantroue teen die DA-beheerde raad ingedien. Die ANC het Marlene van Staden, burgemeester, se kop geëis en die EFF dié van die hele po­li­tie­ke be­stuur­span — die bur­ge­mees­ter, Dingaan Mot­shwe­ne (speaker) en Her­cules Louw (hoof­sweep). Die DA blameer dié mosies op die uitslae van ’n forensiese ondersoek wat bykans voltooi is en lede van dié twee partye kan impliseer.

Van Staden het egter nog nie die stryd gewonne gegee nie.

“Die burgemeester het sewe dae om vertoë te rig waarna die uitvoerende raad oor die besluit kan besin,” het sy in ’n mediaverklaring gesê.

“Die raad sal eers ontbind word wanneer die provinsiale uitvoerende raad ’n geskrewe kennisgewing aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake en die nasionale raad van provinsies gestuur en nie een van die twee binne 14 dae van ontvangs die besluit teenstaan nie.”

Die munisipaliteit word reeds etlike maande lank onder art. 139 (b) deur ’n administrateur bestuur.

Op die video reageer Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier, Van Staden en Motshwene op vrae tydens ‘n mediakonferensie in Polokwane op Maandag 19 November.
’n Volledige berig volg in dié week se uitgawe van Die Pos.


Link na volle berig: http://diepos.co.za/53026/dit-die-einde-van-die-pad-vir-die-modimolle-mookgophong-munisipaliteit-se-raad/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *