Inwoners boos oor diere-afval gestort word


Aangebied soos geskryf deur Marietjie Steenkamp, joernalis van Die Pos koerant:


Inwoners boos oor diere-afval gestort word

Die diere-afval wat op ’n perseel in die industriële gebied van Mookgophong gestort is.

Inwoners van Mookgophong is die harnas in vir iemand wat klaarblyklik diere-afval in die dorp se nywerheidsgebied gestort het.

“Ons het aan die begin van Maart agtergekom daar is ’n uiters onaangename reuk in die lug, maar omdat daar gereeld slegte reuke van die rioolplaas naby ons perseel in 1ste Straat is, het ons aangeneem dit kom weer van daar,” het Leigh van Vuuren van Naboomspruit Konstruksie in Mookgophong gesê.

Volgens Van Vuuren het een van haar werknemers ongeveer ‘n week later vir haar gesê hy het die oorsaak van die slegte reuk gevind en dat hy diere-afval in die veld reg oorkant Van Vuuren se perseel gevind het.

Van Vuuren het die saak aan AfriForum in Mookgophong verduidelik en volgens Philip van Staden, voorsitter van die tak, het hy op 12 en 15 Maart foto’s van die dooie diere per WhatsApp aan Julia Hokgopane van die Departement van Gesondheid gestuur waarna sy erkenning van ontvangs bevestig het.

Van Staden het ook met Ivy Gadebe, waaronder die probleem sorteer, gepraat en die adres van die perseel verskaf.

Dit was egter die laaste wat hy van haar gehoor het.

“Ek het baie foto’s en die adres aan raadslid Hercules Louw gestuur, maar ek het net ’n boodskap terug ontvang dat hy by die Departement van Gesondheid was en dat daar stappe gedoen sou word. Dit het egter nie gebeur nie,” het Van Staden gesê.

“Ons het gehoop die reuk sal verdwyn sodra die oorskot uitdroog. Maar die reuk het net vererger. Ek het toe oorgestap om te gaan kyk wat daar aangaan. Dit was skokkend,” het Van Vuuren gesê.

“Ons is werklik moedeloos om heeldag en aldag met so ’n onbeskryflike stank te moet saamleef. Dit is onregverdig van my om van my werkers te verwag om elke dag in sulke omstandighede te werk,” het sy gesê.

Die Pos het ook ’n boodskap aan Louw gestuur, maar geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.

Die Pos het ook probeer om Pat Malete, mediawoordvoerder van die Waterberg-distrikskantoor in die hande te kry oor die situasie, maar sonder sukses.

Peter Mphela van die departement van gesondheid in Mookgophong wou by navraag nie kommentaar oor die aange-leentheid lewer nie.


Link na volle berig: http://diepos.co.za/108542/inwoners-boos-oor-diere-afval-gestort-word/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *