Gesoute advokaat baklei vir Hepburn se lot …maar beurtkrag knip hofsaak kort


Aangebied soos geskryf deur Ronel van Jaarsveld, joernalis van Die Pos koerant:


Stephan Hepburn.

Adv. Mike Maritz het op Maandag 18 Maart ’n tweeledige aansoek gebring om verdere getuienis te bring ter strafversagting sowel as verlof tot appèl op grond daarvan dat die vonnis onvanpas is.

Landdros Pieter Manthata het die aansoek om verdere getuienis van die hand gewys.

Hepburn is daaraan skuldig bevind dat hy ’n man doodgeskiet het op ’n plaas in die Tuinplaas-omgewing tydens ’n bosvarkjag. Hepburn het tydens sy verhoor volgehou dat hy die 23-jarige Jan Railo per ongeluk geskiet het. Hepburn het gesê dat hy en sy vrou Anel die nag bosvarke in ’n mielieland gejag het op uitnodiging van die plaaseienaar.

Die werkers is vooraf gewaarsku om die mielieland te vermy. Hepburn het glo ’n beweging in die mielies gesien en geluide tipies aan dié van ’n bosvark gehoor en ’n skoot afgevuur. Hy het onmiddellik besef dat dit nie ’n bosvark is nie en het op Railo se liggaam afgekom. ’n Sak mielies het langs hom gelê. Die Tuinplaas-polisie is daarna ontbied.

Die saak het ’n rasseherrie ontketen en tydens Hepburn se eerste verskynings was die hof stampvol.

Tydens Manthata se uitspraak met vonnisoplegging in Januarie, het hy gesê dat Hepburn nie ter strafversagting getuig het nie en ook nie berou getoon het nie.

Adv. Maritz het na aanleiding hiervan Maandag geargumenteer dat Hepburn nie getuig het nie omdat die verdediging ’n informele ooreenkoms met die staat gehad het dat ’n opgeskorte vonnis vanpas sou wees.
Die staat het egter tydens die verrigtinge nie vir ’n opgeskorte vonnis gevra nie.

Adv. Maritz het verder gesê dat Hepburn ’n hardwerkende gesinsman is met geen vorige veroordelings nie. Hy het die hof gevra dat die graad van nalatigheid in ag geneem moet word en na verskeie hofsake verwys waar veel ligter vonnisse opgelê is vir sake van strafbare manslag waar growwe nalatigheid plaasgevind het.

Die staat se argument is onderbreek deur beurtkrag en die hof kon nie voortgaan nie.

Die saak is uitgestel tot Dinsdag, 26 Maart. Hepburn, wat reeds sedert vonnisoplegging op Dinsdag 29 Januarie in aanhouding is, is na die hofverrigtinge weer geboei.


http://diepos.co.za/108117/gesoute-advokaat-baklei-vir-hepburn-se-lot-maar-beurtkrag-knip-hofsaak-kort/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *