Drie pragleeus wreed afgemaai


Aangebied soos geskryf deur Ronel van Jaarsveld, joernalis van die Pos koerant:


Drie pragleeus wreed afgemaai

Drie leeus is die afgelope week deur stropers op ’n plaas in Noordwes vergiftig. Die leeus het aan ’n sakeman van Modimolle behoort. Volgens die veiligheidsmaatskappy HPG is leeustropery ’n baie ernstige probleem in Limpopo.

’n Sakeman van Modimolle wat met leeus in Noordwes boer, het groot skade gely nadat stropers drie van sy diere vergiftig het.

Pat Loots raam die skade op R500 000 nadat die stropers die leeus Vrydagnag 7 Desember met vermoedelik Curaterr, ’n gif wat boere op aartappels, mielies en kool gebruik, in hul water en in stukke lewer geplaas het.

Twee van die diere se koppe en stertpunte is afgesny, wat vingers na plaaslike moetiehandelaars, sowel as verskaffers aan lande in die Ooste, laat wys. Volgens Loots het een van die diere nog geleef toe hulle daar aangekom het en is die dier voor hul oë dood.

Loots het gesê die leeuboerdery word reeds 16 jaar op die plaas bedryf. Vyf stelle spore is gevind wat die plaas van twee verskillende rigtings af binnegekom het. “Die plaas se buitedrade is op drie plekke geknip en die leeukamp se drade op een plek. Die slotte in die kampe waar die dooie leeus was, is afgebreek” het Loots gesê. Die stropers se spore is tot by die teerpad gevolg waar hulle vermoedelik opgelaai is.

Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG) is ook by die ondersoek betrokke. “Hierdie is ’n groot probleem in Limpopo. Ons vra dat enigiemand wat inligting oor die verkoop of stropery van leeubeendere my asseblief kontak,” het hy gesê. Bel vir Louwrens by tel. 071 798 7054.

  • Die Suid-Afrikaanse roofdiervereniging het die polisie geloof nadat agt mense in November in die Klerksdorp-omgewing in hegtenis geneem is. Die polisie het twee Suid-Afrikaners en ses buitelanders met leeubeendere, vleis en tiervelle op ’n onbewoonde plaas in Mareetsane betrap.

    “Indien dié wanpraktyke nie ernstig opgeneem word nie, sal dit toeneem totdat dit dieselfde vlak as renosterstropery vir tradisionele medisyne bereik. Die onwettige handel in enige leeuproduk in Afrika ondermyn alle bewaringspogings. Ons is gekant teen enige onwettige optredes, of dit nou ’n klein administratiewe leuen is of ’n groot stroopvoorval,” het die vereniging in ’n mediaverklaring gesê.


    Link na volle berig: http://diepos.co.za/105420/drie-pragleeus-wreed-afgemaai/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *