Belastingbetalers wil geld weerhou


Aangebied soos geskryf deur Ronel van Jaarsveld, joernalis van Die Pos koerant:


Sowat ’n 100 inwoners van Modimolle het op Dinsdag 26 Maart in dié dorp se stadsaal byeengekom om te luister na Jaap Kelder, die voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU).

Talle inwoners op die dorp is keelvol vir die jarelange diensleweringsprobleme soos lekkende riool, slaggate, stukkende straatligte en watertekorte. Die groep inwoners het besluit om ’n plaaslike belastingbetalersunie op die been te bring sodat hulle belastinggeld vir dienste wat hulle nie ontvang nie, kan terughou. Dié geld kan dan, volgens Kelder, aangewend word vir projekte waarin lede van die unie meer seggenskap het. Die unies is volgens hom nie polities van aard nie.

Volgens Kelder is die NBU reeds 23 jaar oud en is veral bekend vir die aksie wat hulle in Sannieshof geloods het om die munisipaliteit te dwing om dienste te lewer.

Kelder het gesê dat hy ’n raadslid in Kempton Park, asook die onderburgemeester in die Ekurhuleni-metro in die 1990’s was.

“Ek weet hoe ’n munisipaliteit bedryf word,” het hy gesê.

Hy het talle voorbeelde van hofsake waarin die unie gewikkel was, uitgelig. Sommige sake het hulle gewen en ander verloor.

Kelder het verwys na die Bergrivier-saak oor eiendomsbelasting waar die grondwethof glo beslis het dat eiendomsbelasting slegs aan die munisipaliteit betaalbaar is indien dit gepromulgeer is.

“Ek verneem dat Modimolle se eiendomsbelasting baie jare gelede laas gepromulgeer is,” het hy gesê.

Van die voorbeelde van suksesvolle belastingbetalersunies wat hy genoem het, was Koster, wat danksy ’n hofbevel die dorp se waterwerke kon beheer. In Reddersburg het inwoners self die vullisverwydering behartig.

JP van der Merwe is voorlopig as voorsitter van die plaaslike belastingbetalersunie genomineer.

Die vergadering is ook bygewoon deur Marlene van Staden, die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, raadslede Johann Abrie (DA) en Johan Prinsloo (VF Plus), Lindy Wilson (DA-LP en huidige politieke hoof vir Modimolle-Mookgophong) en haar voorganger Desiree van der Walt (DA-LP).

Van Staden het tydens die vergadering gesê dat talle dorpe belastingbetalers-unies het en dat dit dikwels ’n goeie ding is. Sy het gesê dat sy wil hê dat almal in die dorp eerder saamwerk as wat daar verskillende faksies is wat teen mekaar werk.

Sy het gewaarsku dat hofsake duisende rande beloop en dat die staat nie die tyd en die geld het om te spandeer aan uitgerekte hofgedinge nie. Sy het gevra dat geld eerder gebruik word om die dorp reg te maak as om dit in howe te spandeer.

“Ek moedig mense aan om die gemeenskapsvergaderings by te woon. Ek beantwoord baie van julle vrae daar.”

Vir meer inligting oor die unie, skakel vir Van der Merwe by tel. 061 713 5801.


Link na volle berig: http://diepos.co.za/108212/belastingbetalers-wil-geld-weerhou/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *