Inwoners geld kwyt ná Facebook-slenter


download 13 January 2017   l   Ronél van Jaarsveld

Inwoners geld kwyt ná Facebook-slenter

o_1b69d8i34d9415q19rmu3hvfs12

Só lyk die geskenkpakke wat niksvermoedende agente glo vir ’n ekstra inkomste kon verkoop. Die geskenkpakke het egter nooit opgedaag nie en kopers is hul geld kwyt.


’n Facebook-slenter het verskeie inwoners van Modimolle duur te staan gekom. 

Die vermeende skurk het egter Kersfees agter tralies deurgebring.

Volgens die polisie het Wendy Botha, wat op Donderdag, 22 Desember, op Letsitele in hegtenis geneem is, op Facebook geadverteer dat mense wat ’n ekstra inkomste wil verdien, geskenkpakke met gewilde temas soos Superman, Frozen en Dora the Explorer vir Kersfees kan verkoop.

Agente het die geskenkpakke landwyd begin bemark, maar onraad vermoed toe dit ná herhaalde navrae nie opgedaag het nie, hoewel betalings reeds gemaak is.

’n Inwoner van Modimolle, wat nie haar naam genoem wil hê nie, was een van die mense wat op die advertensie gereageer het. “Ek het herhaaldelik vir die vrou gevra of dit ’n eerlike transaksie is of nie. Sy het gesê dit is. Al wat ek moes doen, was om die bestellings te kry en aan haar deur te gee,” het die vrou in trane gesê.

Vyf klagtes van bedrog is by die Modimolle-polisie teen Botha aanhangig gemaak. Sers. Amanda Rossouw en ao. Ross Rossouw het Botha daarna op Letsitele naby Tzaneen opgespoor, waar hulle haar in hegtenis geneem het.

Sy was in aanhouding tot op Woensdag, 4 Januarie, waarna sy op borgtog van R500 vrygelaat is. Polisiebeamptes van Ermelo het haar egter onmiddellik wéér in hegtenis geneem op aanklagte wat glo dáár teen haar aanhangig gemaak is. Volgens Findlay is daar ook sake teen Botha gemaak op Pongola, Worcester en Somerset-Wes.

Dit het volgens Findlay tydens die ondersoek aan die lig gekom dat Botha haar kind se bankrekening vir die inbetalings van kliënte gebruik het. Dié rekening was tydens die ondersoek reeds leeggetrek.

Botha moet weer op Woensdag, 15 Maart, in die hof op Modimolle verskyn.


veza-logo-2c Article is as seen online The Post Newspaper. GoVeza did not write the article and picture is as seen online.

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *