Bloemhof brand


download Bloemhof Brand

BLOEMHOF. – Woedende inwoners wat al sedert verlede week chaos hier veroorsaak, het Dinsdag vragmotors wat op die N12 van Kaapstad na Johannesburg onderweg was, met klippe bestook en minstens drie vragmotors aan die brand gesteek. Na verneem word, is nege huise in die township afgebrand, onder meer dié van Moeder Makodi, die burgemeester. Boere het Dinsdag by al die ingange van die dorp met wapens en bakkies wag gestaan, aangesien die sowat 5 000 betogers gedreig het om die dorp in te val en die landdroshof, munisipale kantoor en polisiekantoor af te brand. n Polisiebeampte van die eenheid vir openbare orde, sê hy was die laaste paar maande by soortgelyke betogings by Brits betrokke, maar hierdie is baie erger. “Ek is 11 jaar in dié eenheid en ek het nog nie so iets gesien nie. Ons mannekrag is te min en daarom moes die boere kom help.” Ná middernag het woedende betogers nog die enkele voertuie wat verby die township gery het met klippe bestook. n Vragmotorbestuurder is ook aangerand. Twee voertuie van n SAUK-verslagspan is omgegooi en het uitgebrand. Die kameramanne en joernaliste is ongedeerd. Die polisie het in die vroeë oggendure inwoners per SMS laat weet hulle is in beheer van die situasie en sal elke inwoner beskerm. Teen Woensdagoggend was die situasie steeds uiters gespanne.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *