Marathon ’n reuse sukses

Article as seen in The Post news paper – for more information click on link.

   18 November 2016   l   Andries van der Heyde

download


Marathon ’n reuse sukses 

o_1b1p5s02318p2hg21jc713kg9b2q

Die mans- en vrouewenners van die 42 km was Reginald Poopedi en Jane Mudau. Saam met hulle op die foto is Carel Coetzee, eienaar van Bela-Bela SuperSpar en Neels Venter, voorsitter van die Warmbad-marathonklub.


’n Baie suksesvolle Spar Bela-Bela-marathon is weer op Saterdag, 12 November, op Bela-Bela aangebied.

Atlete kon aan die 5 km-, 10 km-, 21 km- of 42 km-wedloop deelneem.

Altesame 1 061 atlete het vir die wedloop ingeskryf, met selfs atlete van Spanje en Swaziland wat aangetree het.

In die 42 km mansafdeling het Reginald Poopedi van die ACRW-marathonklub, die wedloop in 2:36:16 gewen. Musawenkosi Sibiya, ook van ACRW, was tweede met ’n tyd van 2:43:34 en Phuti Mohale, verlede jaar se wenner, derde met ’n tyd van 2:48:53.

In die vroue-afdeling het Jane Mudau van die Pietersburg-marathonklub die wedloop eerste voltooi in ’n tyd van 3:20:16. Marcelle Coetzee van die KPMG-klub was tweede met ’n tyd van 3:21:40 en Pearl Hughes van Polokwane derde met ’n tyd van 3:29:48.

Ludwick Mamabolo (Nedbank-marathonklub) het die 21 km binne 1:14:51 voltooi, met Elliott Makgoba (Monaco-klub) tweede in ’n tyd van 1:15:00 en Surprise Mkofane derde met ’n tyd van 1: 27:38.

Deanne Horn van Lichtenburg was die eerste vrou in 1:33:46, met Estelle Paul van die Warmbad-marathonklub tweede in ’n tyd van 1:41:10 en Patience Nkosi (Nedbank-marathonklub) derde met ’n tyd van 1:42:42.

Vir baie was die 10 km ’n uitdaging, maar tog ’n gemaklike roete om te draf.

Ronel Thomas (Boxer-klub) was in dié afstand eerste oor die wenstreep met ’n tyd van 41:23, Gift Ramabele (Eskom) tweede met ’n tyd van 41:48 en Michelle Redelinghuys (Tuks) derde met ’n tyd van 42:26.

Die Spar Bela-Bela-marathon, in samewerking met die Warmbad-marathonklub, is ’n kwalifiserende wedloop vir die Comrades-marathon.

Die bestuur van die Warmbad-marathonklub het in ’n verklaring gesê hulle is gemeenskapgedrewe en nooi alle belangstellendes om deel van toekomstige projekte te wees.

Die klub sien reeds uit na aanstaande jaar se Executive Mayors Road Race wat in Mei vanaf Modimolle tot in Bela-Bela plaasvind.

Die Warmbad-klub se algemene jaarvergadering vind op Dinsdag, 6 Desember, om 18:00 by die Spur op Bela-Bela plaas. Belangstellendes wat dit graag wil bywoon kan ’n e-pos stuur aan belabelamarathon@gmail.com om te bevestig.

Ouerpaar loop pad saam met klein Stefani

Article as seen in The Post news paper – for more information click on link.

18 November 2016   

Keina Swart

download


Ouerpaar loop pad saam met klein Stefani

o_1b1p7b6t41jmi1da79nm26ufl01a

Theunis en Chantelle van Schalkwyk met klein Stefani.


Terwyl hul vriende spog met peuters wat lustig kruip, loop, praat en speel, veg Theunis en Chantelle van Schalkwyk, ’n jong ouerpaar van Bela-Bela, die afgelope bykans drie jaar ’n moedige stryd om net hul kleine Stefani (2) se lewenskwaliteit te verbeter.  

Op twee en ’n half jaar kan Stefani nog nie sonder hulp regop sit nie. Sy kan ook nie praat nie en kry bykans een keer per week erge aanvalle waartydens sy bewusteloos raak.

Theunis en Chantelle, albei oudleerders van Hoërskool Warmbad, was soos enige gelukkig getroude paartjie baie opgewonde oor die koms van hul eersteling.

Chantelle, ’n voormalige wêreldkampioen in biathle (swem en hardloop), se swangerskap het normaal verloop en die baba is baie “vinnig” gebore.

Stefani het met haar geboorte op 4 April 2014 in die Unitas-hospitaal in Pretoria vir albei haar Apgar-toetse (toetse wat direk ná die baba se geboorte gedoen word om ooglopende abnormaliteite uit te skakel) punte van nege uit tien behaal.

Chantelle het egter reg van die begin af gesukkel met die voedings en Stefani het konstant diarree gehad. “Ek was kort-kort oor iets bekommerd, maar dan het ons dokter toe gegaan of toetse laat doen, en ons is elke keer gerusgestel dat Stefani net stadig ontwikkel.” Sy het onder meer geen kopkontrole gehad nie, was baie bleek en haar magie was heeltyd omgekrap.

“Op drie maande was ek regtig baie bekommerd, maar is weer ná ’n klomp toetse gerusgestel,” het Chantelle gesê.

“Op ses maande het ek ’n vriendin gesien wie se baba omtrent so oud soos Stefani is, en besef my kind is regtig baie ver agter,” vertel sy. ’n Nimmereindigende tydperk van besoeke aan dokters, spesialiste, oogkundiges en fisioterapeute het gevolg. Stefani is in die Kloof-hospitaal in Pretoria opgeneem weens “’n suurstoftekort en longinfeksie” maar 20 dae later is sy ontslaan met meer vrae as antwoorde.

Op agt maande is hulle wéér dokter toe. Die eerste dokter het gemeen dat sy moontlik ’n maagvirus het, maar ná ’n tweede mening is Stefani inderhaas in die hoësorgeenheid van die Montanta-hospitaal in Pretoria opgeneem met ’n magie wat behoorlik soos ’n rugbybal geswel was. Sy sou uiteindelik 56 dae in die hospitaal bly en vier bloedoortappings en talle ander behandelings ontvang.

Sy is daarna met Congenital Disorder of Glycosylation (GDG) Type IC gediagnoseer; ’n ernstige genetiese toestand wat veroorsaak dat die pasiënt nie kos reg kan verteer nie en alle organe beïnvloed word. Simptome sluit in vertraagde ontwikkeling op alle gebiede, aanvalle, oogafwykings en gastronomiese simptome soos braking en diarree. Haar verslae ouers is met haar huis toe. Daar is nie ’n kuur vir die siekte nie en ook geen behandeling nie.

Stefani se versorging is vir haar ouers ’n reuse-uitdaging, tog sê Chantelle haar dogtertjie is “’n regte sonstraaltjie en verskaf ons baie vreugde. Sy het my al so baie geleer van vasbyt, aanhou, hoop, geduld en deursettingsvermoë”.

Haar ouers hou aan glo en bid dat daar eendag ’n doeltreffende behandeling teen die siekte sal wees. Intussen doen hulle daagliks terapie, oefeninge en stimulasie en volgens Chantelle sien hulle regtig ’n verbetering.

Die egpaar beoog twee groot projekte waarmee hulle geld wil insamel sodat hulle in Februarie aanstaande jaar ’n kursus in Sandton vir versorgers van kinders met spesiale behoeftes kan bywoon.

Dié kursus vind oor drie dae plaas en kos R120 000.

  • Hou Die Pos dop vir meer inligting oor dié twee projekte. Die eerste is ’n kuieraand met peuselhappies saam met die sanger Bok van Blerk op Saterdag, 17 Desember, by Thaba Manzi buite Bela-Bela, en die tweede is ’n groot gholfdag by Zebula vroeg aanstaande jaar. Gaan loer ook op die Facebook-blad by Stefani van Schalkwyk — Reach Up Reach Out.Vir skenkings of navrae oor die Bok van Blerk-aand, bel vir Chantelle van Schalkwyk by tel. 082 370 4627.

Man sterf toe weerligstraal tref

Man sterf toe weerligstraal tref

weerlig1

ʼn Man is Donderdag in Vanderbijlpark vermoedelik deur weerlig doodgeslaan nadat hy onder ʼn boom skuiling teen die reën gesoek het.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het in Ravelstraat in Staalrus gebeur. “Toe paramedici omstreeks 16:15 by die toneel opdaag het hulle die man, vermoedelik in sy 30’s, aangetref waar hy onder die boom lê. Hy was reeds dood,” het Mathe gesê.

“Die vermoede is dat hy onder die boom skuiling gesoek het en toe deur die weerlig getref is.”

Swaar reën het Woensdag oor Gauteng uitgesak en erge kitsvloede aan die Oos-Rand veroorsaak wat die lewe van minstens vier mense geëis het. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Gautengers vroeër vandag gemaan om vandag en veral Vrydag op hulle hoede te wees vir swaar reën, hael, kitsvloede en stormsterk wind oor die provinsie.

 

Soektog na driejarige duur voort

Article as seen in Maroela Media – For more information click on link.

11 November 2016
  Maroela-redaksie/ANA

download

 


Soektog na driejarige duur voort

jukskei-everlate-chauke-01

Die soektog na die driejarige Everlate Chauke, wat in die water van die Jukskeirivier in Alexandra meegesleur is, hervat Vrydag.

Haar pa het haar Woensdag gedra en in ʼn boom geklim om van die stormwater weg te kom, toe die tak gebreek het en sy in die water meegesleur is. Reddingspanne het Donderdag die rivier in Alexandra en omliggende dele deursoek, het die Johannesburgse nooddienste gesê.

Die Chaukes is een van talle gesinne wat dakloos gelaat is nadat die rivier sy walle oorstroom en talle informele huise meegesleur het in een van die ergste storms nog wat Johannesburg Woensdag getref het. Meeste gesinne het skuiling by vriende of familielede gesoek nadat hulle al hul besittings verloor het.

Paul Mashatile, waarnemende premier, het die betrokke gebiede langs die rivier besoek. Hy het aangekondig dat die inwoners, waarvan sommige al meer as 10 jaar op die rivieroewer bly, na ʼn veiliger plek geskuif sal word.

“Die regering se onmiddellike kommer is om na die onmiddellike behoeftes van die inwoners om te sien. Die regering sal saam met die plaaslike gemeenskap werk om ʼn tydelike skuiling te bied en in die basiese behoeftes te voldoen,” het Mashatile gesê.

Meeste mense wie se huise deur die vloed meegesleur is, bly op die vloedlyn van die Jukskei-rivier. “Ons het berou oor die voorval en betuig ons innige meegevoel met families wat geliefdes verloor het as gevolg van die kitsvloede.”

Sean Phillips, besturende direkteur van die Johannesburgse padagentskap (JRA) het bevestig minstens ses mense is dood tydens Woensdag se storm.

#FeesMustFall-studente vrygelaat op borgtog

Article as seen in Maroela Media – for more information click on link

11 November 2016
  African News Agency

download


#FeesMustFall-studente vrygelaat op borgtog

ukzn-studentebetogings-in-die-hof

Tien studente wat in verband met gewelddadige betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is, was in die Pietermaritzburgse hooggeregshof suksesvol om die besluit oor hul aansoek om borgtog om te keer.

Daar was ʼn gejuig in die hof toe regter Bongani Zaca sy beslissing gemaak het.

Die studente, waarvan sommige 49 dae in Pietermaritzburg-gevangenis en Durban se Westville-gevangenis spandeer het, is aan die einde van September by die universiteit se Pietermaritzburg-kampus in hegtenis geneem toe die #FeesMustFall-betoging gewelddadig geraak het.

Hulle staan tereg op aanklag van openbare geweld, aanranding en opsetlike saakbeskadiging. Landdros Miranda Boikhutso het vroeër hul aansoek om borgtog afgekeur.

Die staat het beeldmateriaal gebruik as die primêre basis waarom sewe studente se aansoek om borgtog afgekeur moet word. Die ander drie se aansoek om borgtog is afgekeur omdat die polisie hulle as oortreders tydens die onrus uitgeken het.

Die studente het Donderdag appèl aangeteken teen die besluit voor regter Zaca en hy het hulle vrygelaat op borgtog van R1 000 elk.

Zaca het gesê die landdros het op beeldmateriaal gesteun wat nog nie getoets is nie. Volgens hom het sy ook gesteun op identifikasie deur die polisie, wat ook tydens die hofsaak getoets moet word.

Deel van die borgtogvoorwaardes is dat die studente nie aan gewelddadige betogings by die universiteit mag deelneem nie.

Talle studente en familielede het die vorige hofverskynings van die studente bygewoon.

Die studente het buite die hof mekaar omhels en selfies geneem langs polisiebeamptes wat ook in die hof was. Hulle het gesing en gedans op pad terug na die kampus, te midde van ʼn swaar polisieteenwoordigheid.

Die studente moet weer op 2 Desember in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.

Die studente se vrylating kom ure ná ʼn student, wat deur Alexandra-polisie aangehou is, vrygelaat is sonder om aangekla te word ná ʼn brandstigtingvoorval Dinsdagoggend by ʼn finansiële administrasie-gebou.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media

 

3 ontsnap uit polisieselle

Article as seen in Maroela Media – for more information click on link.

11 November 2016

Deel van: SA-nuus

download


3 ontsnap uit polisieselle

ontsnap-tronk-groot

 

Drie verhoorafwagtende gevangenes wat op aanklag van verkragting tereg staan, het Donderdagmiddag uit polisieselle in Phalaborwa in Limpopo ontsnap.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn reusesoektog na Papic Mashale (23), Thomas Mawashe (23) en Benny Mathaba (24) is van stapel gestuur.

Volgens Ngoepe het die gevangenes omstreeks 17:00 ontsnap toe polisiebeamptes besig was om hul kos vir hulle te bring. “Daar word beweer dat die verdagtes die polisiebeamptes oorrompel het, daarin geslaag het om een van hulle te ontwapen en toe ontsnap het. Geen skote is afgevuur nie,” het Ngoepe gesê.

Die drie word aangekla van verkragtings wat in die Namakgale-gebied buite Phalaborwa plaasgevind het.

 

 

Lightning strikes heifers

Article as seen in The Post – for more information click on link.

11 November 2016

Zani Hiepner

download


Lightning strikes heifers

o_1b16lp8538gg8uq14621s2t1pcl2i

Heifers were struck by lightning during a storm resulting in 23 dead.


Lightning caused major damage during the early morning hours of Wednesday, 2 November, when a lightning storm swooped through the farm, Goedehoop, approximately 8 km from Vaalwater.

The lightning struck a heard of beef master heifers resulting in 23 dead, five of which were pregnant.

Two heifers managed to survive the ordeal, and seem to be doing fine.

“This was a very unfortunate event for us, as the heifers who were struck seemed to be walking together,” said Dian Senekal, farm manager.

Fortunately the herd of 81 heifers were split up during the storm, or it could have resulted in a much larger loss.

Paul Kruger-standbeeld met petrolbom gegooi; EFF-lede na Uniegebou

Article as seen in Maroela Media – For more information click on link.

2 November 2016
  Maroela-redaksie/ANA

download


Paul Kruger-standbeeld met petrolbom gegooi; EFF-lede na Uniegebou

paul-kruger-standbeeld Julius Malema, leier van die EFF, het Woensdag saam met duisende ondersteuners na die Uniegebou beweeg om pres. Jacob Zuma te “dwing” om te bedank.

Die polisie het minute nadat die betogers by die Uniegebou aangekom het, met rubberkoeëls op hulle losgebrand.

Die betogers het na die Uniegebou beweeg nadat Malema hulle op Kerkplein toegespreek het. “Alles waarvoor die EFF geveg het, is deur die hof toegestaan,” het Malema gesê met verwysing na die hof se bevel dat Thuli Madonsela se staatskaping-verslag vandag bekend gemaak moet word.

Malema het gesê die EFF gaan voort met die nalatenskap van anti-apartheidsfigure Chris Hani en oudpres. Nelson Mandela. Hy het ook weereens ʼn beroep op die party se ondersteuners gedoen om oop grond te beset.

“Moenie bang wees nie, ons sal nie stop voor ons grond kry nie. Ons veg want Zuma ondermyn Afrika-leierskap en projekteer swart mense as onbekwaam om die land te regeer.”

ʼn Petrolbom is intussen na Paul Kruger se standbeeld gegooi. Dit is nie duidelik of dit voor, ná of tydens Malema se toespraak gebeur het nie. Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, kon dit nie dadelik bevestig nie en het gesê die metropolisie reageer tans op verskeie sporadiese tonele waar betogers amok maak.

“Ons sal binnekort ʼn verklaring uitreik van al die probleempunte, sodra meer inligting van al die rolspelers ontvang is,” het Mahamba verduidelik.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, kon ook nie dadelik die voorval bevestig nie. “Die polisie het nog nie die brandweer na Kerkplein ontbied nie. Maar as dit ʼn petrolbom was, sou dit ʼn groot vlam veroorsaak het en vinnig weer uitgebrand het.”

Die omvang van die skade aan die standbeeld is nie onmiddellik bekend nie.


Maroela Media – Facebook link

Maroela Media – Nuus Blad